Boereplan: Intensiewe lamstelsel maak skaapboerdery lonend

Charl van Rooyen

’n Bedryfsielkundige het ’n stelsel vir intensiewe skaapboerdery ontwikkel wat nou uiters suksesvol deur sy vrou, wat ’n doktorsgraad in verloskunde het, gevolg word om ’n lonende skaapboerdery te bedryf.
Wat as ’n akademiese ondersoek na die volhoubaarheid van intensiewe boerdery met vleisskape begin het, het vir mnr. Manie en dr. Karin Wessels in ’n boerdery ontwikkel met 180 Dormer-stoetooie, een werker en ’n lampersentasie wat nog nooit minder as 180 was nie.
Hulle was jare lank Johannesburgers. Manie het op die familieplaas, Mamre, tussen Vrede en Frankfort grootgeword en wou graag boer. Nadat hy in die vroeë 1980’s matriek geskryf het, was die gebied egter in ’n erge droogte vasgevang en hy het gaan studeer en hom as bedryfsielkundige bekwaam. In 1992 is sy pa, Herman, oorlede en hy het grond geërf. Later kon hy die res van die familiegrond en aangrensende plase bykoop.
Intussen het sy pad gekruis met dié van Karin, wat haar doktorsgraad in verloskunde behaal en as vroedvrou gewerk het.
Deur die jare het albei ’n begeerte gehad om heeltyds plaas toe te gaan. Manie was in daardie stadium ’n naweekboer met ’n vleisbeeskudde. Hy boer tans met Afrika-tipe vleisbeeste en volg die Lasater-filosofie van beesteling streng na. Hy selekteer naamlik vir die ses noodsaaklike, ekonomies belangrike eienskappe: temperament, gewig, aanpasbaarheid, melkproduksie, vrugbaarheid en bouvorm. “Ek het ’n klein mediumraamkoei geteel wat hier op die veld aangepas is en aan ons vereistes voldoen om op die ouderdom van twee jaar op die veld te kalf,” verduidelik hy sy teelbeleid.

Akademiese navorsing
In 2006 het hulle hul droom bewaarheid en heeltyds begin boer. Manie het hom ook vir die meestersgraad in volhoubare landbou (MVL) aan die Universiteit van die Vrystaat ingeskryf.
“In daardie stadium het ek my bekommer oor baie jong mense wat nie werk kry nie. Toe besluit ek om my skripsie vir die graad te wy aan ’n model wat ’n skoolverlater kan volg om suksesvol op ’n klein stukkie grond intensief met skape te boer,” vertel hy.
Hy het ook ’n ondersoek gedoen na die volhoubaarheid van intensiewe boerdery met vleisskape vergeleke met ekstensiewe en semi-ekstensiewe skaapboerdery.
Uit die navorsing is ’n projekplan ontwikkel vir ’n intensiewe skaapboerdery wat enigiemand kan volg, met riglyne om die ingewikkelde bestuur van so ’n boerdery vlot te laat verloop. Dit is gemik op ’n boerdery met 180 ooie, maar kan eers op kleiner skaal aangepak word.

Die model
Hulle het gevolglik 25 Dormer-stoetooie aangeskaf. Karin het die model begin en dit stelselmatig uitgebrei deur die beste ooilammers te hou. Nou is daar 180 Dormer-stoetooie in die stelsel, wat sy met net een werker hanteer.
Hulle is in tien groepe van agttien ooie elk verdeel, elk met ’n afsonderlike lamtyd. Die egpaar laat lam hulle net nie gedurende Julie en Augustus nie omdat dit dan baie koud in die Oos-Vrystaat is en waterpype gereeld snags vries. Hulle het ’n ou melkstal, wat al vir dekades op die plaas is, met lamhokke ingerig waar die ooie een-een kan lam. “Dit verbeter die volhoubaarheid van die plan as die boer nie ’n gebou hoef te bou nie. Ons het sommer ou materiaal gebruik om die hokke mee te bou,” vertel Karin. Die uitgawes was dus laag.
Buite het hulle ’n aantal kampies waarin ooie met lammers van verskillende ouderdomme gehou word. Die hele boerdery verg net 10 ha. Die lamhokke en kampies is by die huis om die bestuur te vergemaklik.
Die ooie word in groepe gesinchroniseer en met die hand gedek sodat elke groep van agttien ooie binne drie dae tot vier dae lam. Dus is Karin se intensiewe aandag net vir ’n kort deel van elke maand nodig.
Ses weke voor die ooie lam, word hulle in klein kampies aangepas op die voerkorrels wat hulle in die lamhokke gaan ontvang. Drie dae voor lamtyd gaan hulle dan na die lamhokke om aan dié toestande gewoond te raak.

Suksesse
Die stelsel is so suksesvol dat die lampersentasie nog nooit laer as 180 was nie; dikwels nóg hoër. Vrektes is uitsonderlik. Dit help natuurlik dat Karin in haar vorige beroep ’n vroedvrou was.
Die ooie en lammers bly vir sewe dae tot tien dae in die lamhokke, waar infrarooi ligte in die winter aangeskakel word om hitte te verskaf. Elke ooi het haar eie waterkrip en kos.
Daarna gaan die groep ooie met hul lammers na hul eie kampie met ’n hok waar die lammers kruipvoeding kry.
Die lammers word op die ouderdom van agt weke gespeen. Die ooie kry vier weke herstelkans en word dan weer vir sinchronisering voorberei, ingeënt, gedoseer en gedek.
Die ram- en ooilammers gaan almal, nadat hulle gespeen is, na ’n klein voerkraal op die plaas waar hulle tot op 14 weke gevoer word. Op die ouderdom van ongeveer twaalf weke skei hulle die ooitjies van die rammetjies. Hulle neem die geskikte ram- en ooilammers in die stoetery op en dié wat hulle nie keur nie, word almal geslag.
Volgens hierdie stelsel speen hulle altesame 32 lammers per maand gedurende ’n siklus van agt maande. Dit beteken ’n inkomste van ongeveer R18 000 per maand nadat die koste verhaal is. Dit is genoeg vir ’n gemiddelde gesin om van te leef. Al die voer word gekoop.
Die slaglammers word na ’n slagplaas op Vrede gestuur waar hulle gemiddeld 30 kg teen ’n A2-gradering uitslag. Manie sê teen ’n slagplaasprys van R46/kg kry hulle gemiddeld R1 380 per slaglam. Volgens sy berekeninge dra een lam wat ’n ooi lewer, vir agt maande die koste van die ooi. Die res van die lammers is dus wins.
“Hierdie boerdery kan eintlik as presisieboerdery bestempel word. Dit is ’n volvoerboerdery en die skape wei minimaal op die veld,”verduidelik hy verder.
Die voer in die lamhokke moet voedingskragtig wees. Die Wesselse voorsien dit in emmers aan die ooie. Hulle koop saagsels om as beddegoed te dien. Dit absorbeer die mis en urine en is warm. Infrarooi ligte verskaf in die winter genoeg hitte. Verder is ’n skaal en ’n drukgang nodig.

Lbw vra ...

Mnr. Manie en dr. Karin Wessels

Wat is die beste boerderybesluit wat jy al geneem het?

Om grond te koop toe niemand anders wou koop nie.

Die beste raad wat jy ooit gekry het?

Moet aan niemand iets verskuldig wees nie.

Wat is die grootste fout wat jy in jou boerdery gemaak het?

Ons was in die beginjare te konserwatief oor uitbreiding.

Wie was jou mentor?

Jy kan by elke mens iets leer. Wees net bereid om te luister.

‘Die wins van R18 000 per maand is genoeg vir ’n gemiddelde gesin om van te leef.’

 

‘Gebruik eerder ’n bestaande gebou as om spesiaal een op te rig.’

 

Winsgewend - Net 10 ha nodig

Benewens die gebou vir die lamhokke en 10 ha grond vir kampies wat vir so ’n boerdery nodig is, is die heel belangrikste ’n stelsel wat deurgaans genoeg skoon water verskaf. Elke lamhok het ’n klein drinktrog met ’n klep wat water uittap wanneer die ooi water drink.
Siektebestryding is belangrik in so ’n intensiewe stelsel. Die Wesselse doseer egter nie onnodig nie en volg die Famacha-stelsel waarvolgens die kleur van die slymvlies van die oog bestudeer word. Sodra dit bleek word, beteken dit die skaap het inwendige parasiete en sy word gedoseer.


 

KORTOM

Dié model wys ’n intensiewe skaapboerdery met 180 ooie op sowat 10 ha kan volhoubaar wees.
Siektebestryding is belangrik. Vrektes is die uitsondering. Hul lampersentasie was nog nooit laer as 180 nie.
Die beste speenlammers word vir die stoetery gekeur en die res word geslag.


Kategorie: Boerplanne/Lamstelsel
Bladsy 44 - 45
Kleurfoto's

Navrae: Mnr. Manie Wessels, sel 083 284 7470;

Klik hier om Die spons proses  te sien